Adv. Johan Bruwer (17.05) se navraag oor die doen en late van Jesus is ’n redelike versoek, aangesien die Jesus-figuur die hoeksteen van baie mense se geloofslewe vorm, en omdat die Jesus-beeld van die hoofstroomkerke nie met die persoon wat Galilea bewandel het, versoen kan word nie.
Baie denkers en teoloë het al die lewe van Jesus nagevors. Vermaarde teoloë soos Albert Schweitzer, (The Quest of the Historical Jesus), David Strauss (Das Leben Jesu, Kritisch Bearbeitet), Sakkie Spangenberg (Jesus van Nasaret), Flip Schutte (Jesus’ Resurrection in Joseph’s Garden) en die internasionaal gerespekteerde Andries van Aarde (Fatherless in Galilee: Jesus as Child of God) gee volledige uiteensettings en beantwoord al Bruwer se navrae. Om die breër agtergrond van die tyd in te klee, is Ferdinand Deist se Material Culture of the Bible: An Introduction onmisbaar.
Die konsensus is tans dat die mens Jesus besondere kwaliteite aan die dag gelê het, maar dat redaksionele veranderings aan die Bybelverhale die historiese Jesus versluier.