Dit is ’n jaar sedert adv. Terry Motau se verdoemende verslag oor VBS Bank bekend gemaak is. Bewyse van hoe R2,7 miljard van munisipaliteite, stokvelle van arm mense en ook die Staatsdienspensioenfonds verduister is, is bekend gemaak.
Die betrokke munisipaliteite sukkel nou om dienste te lewer, maar van die munisipale amptenare is nog in diens en sommige selfs glo bevorder. Die onskuldige publiek ly daaronder. Name is genoem van mense wat glo onregmatig verryk is. Politici se name is ook genoem.
Twee senior lede van die Openbare Beleggingskorporasie, een ’n prokureur, wat in die direksie van VBS Bank aangestel is om oor werkers en pensioentrekkers se belange te waak, het volgens Motau erken dat elkeen meer as R7 miljoen ontvang het om stil te bly. Hulle het, en die pensioenfonds het skade gely.