Ek stem nie saam met Emile Terblanche (30.05) dat ons Suid-Afrikaanse lemoene kwansuis so swak smaak nie. ’n Goeie eerstegraad-nawel van die Citrusdal-vallei is beslis lekkerder as enige ingevoerde lemoen.
Ek stem saam dat die lemoene wat ons tans op die plaaslike mark kry, uiters swak is. Ek het onlangs ’n sakkie op George gekoop. Wat ’n teleurstelling! Toe ons die lemoene by die huis uitpak, was twee reeds vrot. Dit was uitskotgehalte en daar was ook suurlemoene in die sakkie!
Ek vermoed dat smouse die uitskotlemoene by boere koop, dit self verpak en op die mark plaas. Sekerlik moet daar iewers ’n instansie wees wat hierdie praktyke beheer en verseker dat sulke minderwaardige produkte nie aan die publiek verkoop word nie.