Met die brande wat in groot dele van die Vrystaat gewoed het, het dit op sommige plekke gelyk soos ’n inferno.
Weiding, plante, vee en wild het in die slag gebly. Dít saam met die prentjie van ons land wat in 27 jaar verwoes is deur ’n korrupte regering wat gulsig gesteel het aan die geld wat vir die behuising en opheffing van die armes aangewend moes word.
Pres. Cyril Ramaphosa kom elke keer met planne vorendag wat nie deur sy regering tot uitvoering gebring kan word nie. Die regering wil alles self doen, sonder die ondervinding van die private sektor. Die bekwaamheid in die private sektor word deur die ANC en EFF gesien as ’n bedreiging vir hul kommunistiese en sosialistiese ideologieë.