Die meeste van ons is al keelvol vir beurtkrag. Dit maak ’n bespotting van beplanning en organisasie, en dit is tyd dat behoorlik verslag gedoen word oor presies wat by Eskom aan die gang is. Tot dan bly dit net ’n enigma.
Daar moet presies verduidelik word hoe ’n betrokke kragstasie buite werking raak. Is voorkomende instandhouding behoorlik gedoen? Is daar nalatigheid, en hoe word dit hanteer? Is daar ’n gebrek aan kundigheid/ondervinding by bestuurders, en indien wel, hoekom? Wat het geword van al die bevoegde bestuurders wat voor die ANC-bewindsoorname daar was?
Sonder energie is ’n land tot ondergang gedoem. Dit is die dryfveer van die ekonomie en moet soos goud opgepas word.