Ilse Salzwedel se artikel “Staatskaping, met parlementêre permissie” oor haar boek Permitted Plundering (By, 04.12) het betrekking. ’n Mens het ’n gevoel van woede oor die parlementêre kondonering van die agteruitgang van die land, maar andersyds ’n persepsie dat hierdie soort verwikkelinge dalk net einde se kant toe begin staan. Die artikel eindig met ’n “bietjie inspirasie” – daar skyn as’t ware lig te wees aan die einde van die tonnel.
Daar is wel slegte nuus vir diegene wat hierdie opvatting het. Die beoogde wet op onteiening sonder vergoeding is al drie jaar hangende. Wanneer dit finaal deur die president goedgekeur word (ek is oortuig hy sal, vandeesweek se terugslag ten spyt), kry staatsliggame omvangryke magte vir die grootskaalse beslaglegging op eiendom (die konsepdokument noem spesifiek dat die “eiendom” nie beperk is tot grond nie).
Enigiets wat die ANC en die EFF in die oog het, sal in die toekoms deur hierdie wet moontlik gemaak word. Die grootskaalse besit van grond was nog altyd die kersie op hul koek (al wys peilings ander prioriteite, byvoorbeeld werkloosheid en huisvesting) en politici vryf reeds hul hande in afwagting. In Zimbabwe, waar ’n soortgelyke proses gevolg is, het politici die grootste voordeel getrek. Dit het dit ongeveer 15 jaar geneem om korrupte bewindhebbers uiteindelik met ’n staatsgreep omver te werp, maar teen daardie tyd was die land lankal totaal geruïneer.