Die woordestryd, én ideologiese posisiekeuses, wat Anton van Niekerk se rubriek (17.09) oor (veral wit) rassisme veroorsaak het – selfs uit die verre Holland – het my nie verbaas nie.
Wit Afrikaners, en veral die Afrikanernasionaliste, het ’n lang rassistiese geskiedenis. Ook binne die Afrikaanse kerke, kultuurorganisasies, die Broederbond, Ruiterwag, Afrikaanse universiteite en Afrikaanse koerante. Van Niekerk, as ek hom reg verstaan het, vra eintlik: Hoe kan Afrikaners van dié rassistiese verlede verlos word en nie-rassisties dink en doen?
Hy skryf sy rubriek vir Die Burger – Afrikaanse lesers. Nie vir die Sowetan nie. Die eis dat hy ook swart mense se rassisme moet aanspreek, vind ek onsinnig en heeltemal ongenuanseerd. Of wil sy kritici deur ’n agtervenster sê: Ons is maar almal só.