Om eerlik te wees, vandag is afstand niksseggend. Enige bestemming op aarde is binne minute tot 24 uur weg.
Toe ons jonk was, was elke Desembervakansie op die plaas van Hendrina na Dealesville net agt uur se ry weg. Die familie is ná ’n jaar weer herenig en daar is gelag, gesels, gespeel en Kersfees gevier. Ná die vakansie terug Hendrina toe en eers ’n jaar later is die lekker tog weer aangepak. Dit het jou nie gepla nie, want jy het geweet dat jy jou broers, ouers en susters gaan sien. Toe die kinders later jare oorsee begin gaan, was dit ook nie ’n probleem nie. Net soos Hendrina en Dealesville agt uur van mekaar is – per motor – is Londen per vliegtuig ook net ure weg. Jong mense het oorsese poste begin aanvaar; kinders en ouers kon wêreldwyd heen en weer vlieg as hulle verlang of vakansie saam wil hou. Die wêreld het ’n paar uur groot geword.
Toe gebeur die onverwagte: Covid-19. Die wêreld kom knarsend tot stilstand. Nou is jou broer in Kaapstad net so onbereikbaar soos jou broer in Edinburg, Skotland.