Mense wat dink die Bybel is onbetroubaar of selfweersprekend, is óf onkundig óf moedswillig.
Die Bybel leer die betroubare boodskap van God se Koninkryk. Bybellesers se uitdaging is om hierdie Godgegewe, betroubare Koninkryksboodskap te ontsluit vanuit 66 boeke wat geskryf is in vreemde antieke genres. Boonop het God Sy Koninkryksboodskap laat verkondig in antieke tale, antieke verstáánshorisonne (soos destydse wêreldbeelde) en antieke omstandighede (soos die Korintegemeentekonteks).
Al dié faktore moet verreken word voordat moderne lesers die tydlose Koninkryksboodskap kan ontsluit vanuit die antieke verpakkingsmateriaal. Boonop het dit God behaag dat die geheimenis van Sy Koninkryk geleidelik ontvou van die Ou Testament na die Nuwe Testament; die eerbiedige leser moet daarom verreken dat talle offers en seremonies en voorskrifte van die Ou Testament slegs ter voorbereiding was vir Christus se koms, terwyl ander Koninkryksbeginsels geldig bly ná Sy koms.