Ek is in die proses om ’n leefstylverandering te doen. Ek wil die begrip “lock-up-and-go” (sluit en gly) vervolmaak, ook om makliker te kan wegbreek na my kinders – ek geniet die proses van afskaal terdeë.
Ek maak skoon soos nog nooit, ook my kop – ek wil nou werklik lig reis. My huiswerker se man het al twee bakkievragte goed kom oplaai. My tuinwerker word weekliks geseën. Ek het al vullisdromme en vullisdromme volgemaak met ou lêers en dokumente – die feit dat ek my storie nou in my memoires neergepen het, maak dit makliker om van ou lêers ontslae te raak. Ek het byna 200 boeke by ’n boekwinkel afgegee.
Familie het al spesiale goed uit my versamelings “geërf”. Ek is weer eens verstom oor hoe baie ’n mens versamel oor tyd. As jy jou kry, besit jou besittings jou. Nogtans is dit ’n opwindende belewenis en in die proses loop ’n mens ook deur die laning van herinneringe wanneer jy deur lêers, foto’s, notas en briewe en kaartjies blaai wat jy oor die jare heen ontvang het. Kosbaar vir my is verjaardagkaartjies en briefies van my kinders van kleintyd af – geld kan dit nie koop nie. Die reis duur voort. Ek besef weer eens: Geluk is nie ’n plek nie, dis ’n ingesteldheid.