Barend Gildenhuys se brief “Voorbeelde oor ‘leiding van die Heilige Gees’ ” (09.12) het betrekking. Hy verwys ook na verskillende sinodes se “ja” en “nee” oor gays en betrek “die dolerendes” in sy slotsin.
Die Algemene Sinode het in 2015 en 2019 skokkende besluite sonder grondige Skrifuitleg geneem (dalk onder leiding van die tydsgees?) oor selfdegeslagverhoudinge en opdrag gegee dat ’n on-Bybelse “formulier” opgestel word vir gebruik tydens die kerklike bevestiging en seëning van sulke sondige verhoudings.
Dit toon ’n gebrek aan eerbied vir die gesag van die Bybel as onfeilbare Woord van God.