Oral verskyn daar nou opmerkings oor supermarkte en ander besighede wat beskuldig word dat hulle hul pryse onregmatig verhoog gedurende die huidige krisis. Dit is veral op sosiale media waar van die voedselverskaffers na my beskeie mening onregverdig beskuldig word van verhoogde pryse deur lede van die publiek wat, glo ek, nie hul feite reg het nie.
So byvoorbeeld was daar ’n plasing op sosiale media oor ’n bekende vleiswinkel wat na bewering die prys van sy boerewors tot R95 per kg verhoog het nadat dit ’n week tevore na bewering nog R82 per kg was – maar laasjaar was die prys van hul wors reeds R85 per kg, so waar die R82 nou vandaan kom, weet ek nie.
Daar word ook bemerk dat sekere supermarkte (as voorbeeld Spar Plattekloof) beskuldig word dat hulle hul pryse op sekere goedere buitensporig verhoog het. Sover my kennis strek, word die groot supermarkgroepe se pryse op ’n streekbasis sentraal op hul stelsel beheer. Dus kan ’n winkel/tak nie sy eie pryse op die stelsel laai nie. As die betrokke Spar dus ’n sekere prys gevra het, sou dit van toepassing moes wees op alle Spar-winkels in die Wes-Kaap.