Onlangse gebeure in Suid-Afrika so kort voor die algemene verkiesing is rede tot kommer. Volgens die land se Grondwet is almal gelyk voor die gereg, en word dit deur die hoogste hof in die land beskerm.
Is dit egter genoeg, en word die slagoffer beskerm deur staatsorgane wat ingestel is om hierdie funksie te verrig? Het dit nie dalk tyd geword dat die parlement ’n wet teen intimidasie en teistering deurvoer nie?
Sekere gebeure haal gereeld die hoofopskrifte, en verdwyn dan sonder enige terugvoering of sekerheid dat geregtigheid geskied het. In ’n demokrasie behoort landsburgers vertroue te hê in die land se bestuur. Intimidasie vernietig menswaardigheid en jou regte as burger. Vrees oor wat sal gebeur as daar nie na die boelies geluister word nie, is onaanvaarbaar.