Die laaste paar jaar, veral midde die algemene verval van die nuwe demokratiese Suid-Afrika, is oudpres. FW de Klerk, veral op sosiale media, deur hoofsaaklik wit Suid-Afrikaners uitgekryt vir ’n verraaier. En nog baie meer afskuwelike name.
Ná sy afsterwe het sosiale media weer koning gekraai met name en woorde waarvoor ek as Suid-Afrikaner maar net my kop in skaamte kan laat sak.
Ek het die week ná sy afsterwe al die kommentaar op sosiale media gevolg, koerantberigte gelees met positiewe en negatiewe kommentaar, na gesprekke oor RSG geluister. Soveel mense, soveel menings. Baie het die vraag gevra of hy die Nobelprys vir vrede moes ontvang het. Weer eens verskillende menings.