As daar ooit ’n Afrikaner-adel was, was Frederik Willem de Klerk, wat 11 November 2021 op 85-jarige leeftyd oorlede is, een van die hoogste lede.
Hy is op 18 Maart 1936 in ’n illustere Afrikanergeslag gebore as seun van sen. Jan de Klerk, wat verskeie ministerskappe in die kabinette van premiers JG Strijdom, Hendrik Verwoerd en John Vorster beklee het. Strijdom was trouens FW de Klerk se oom. Sy ouer broer was Wimpie de Klerk, invloedryke teoloog en koerantredakteur.
Ek het De Klerk in 1976 die eerste keer ontmoet, toe ek besig was met my doktorale studie aan die Universiteit van Leiden in Nederland en terselfdertyd as vryskut-korrespondent vir die dagblaaie van die Nasionale Pers opgetree het. De Klerk was op besoek in Nederland, en ek het ’n onderhoud met hom gevoer.