Een van die mense wat ’n potensiële burgeroorlog in Suid-Afrika help keer het, prof. Abraham Viljoen, is in die ouderdom van 88 oorlede. Hy was die tweelingbroer van genl. Constand Viljoen, wat in 2020 gesterf het.
Die voormalige Springbokrugbyspeler Tom Bedford, wat vir Abraham goed geken het, sê die Viljoen-broers was dalk ’n identiese tweeling, maar het heeltemal verskillende sienings gehad oor hoe om die land se probleme op te los.
In Mei 1993 was Constand – toe reeds afgetree as hoof van die weermag – een van die stigterslede van die Afrikaner Volksfront, ’n sambreelorganisasie wat bestaan het uit 21 regse organisasies wat destyds die onderhandelingsproses teengestaan het en hulself vir ’n onafhanklike Afrikaner-staat beywer het.