’n Doodgewone vrou wat wondere in haar en ander se lewens verrig het, Desiree Rechner, die medestigter van die Pink Ladies-organisasie, is in die ouderdom van 76 oorlede. Sy het aan ’n longkwaal in die Living Hope-tehuis in Kommetjie gesterf.
Rechner se hele lewe het een van altruïsme geword nadat sy dié organisasie in 2007 saam met Jacqui Thomas gestig het ná die verdwyning en moord op die sewejarige Sheldean Human van Pretoria-Wes.
Die dogtertjie het ’n pienk toppie en denimrompie gedra. Dit was om daardie rede dat hierdie organisasie vir kinders begin is en die opvallende dog teer kleur as logo gebruik is. ’n Groep vroue, ook geklee in pienk, het destyds die strate ingevaar om na haar te soek. Daarna het hulle duisende kinders en later volwassenes help opspoor wat verdwyn het.