Die Europese monarg wat as kleuter in Suid-Afrika gebly, as jong man ’n Olimpiese medalje vir sy land verower het en uiteindelik as koning weens sy politieke inmengery in ’n staatsgreep ontsetel is, is in Athene dood.
Konstantyn Glücksburg (soos die Griekse media na die voormalige koning verwys) was 82.
Konstantyn, wat aan respiratoriese infeksie dood is, het nie die staatsbegrafnis gekry waarna hy so gesmag het nie. Nóg die Griekse eerste minister, Kyriakos Mitsotakis, nóg die president van die republiek, Katerina Sakellaropoulou, was daar.