Een van die eerste ANC-lede wat die fluitjie oor staatskaping geblaas het en die deure van bedrog en swendelary in die regering oopgeruk het, Vytjie Mentor, is op 58 in Johannesburg oorlede.
Ná ’n beenbesering het sy ernstig gewig aangesit en het bariatriese chirurgie ondergaan waar die dermkanaal kleiner gemaak word, sodat ’n mens minder eet en meer voedingstowwe kan absorbeer. ’n Infeksie het deur haar lyf versprei en haar organe het in so ’n mate verswak dat sy gesterf het.
Herman Mashaba, ActionSA-president, sê sy was saam met Mcebisi Jonas een van die eerste ANC-leiersfigure wat die Guptas se staatskaping onder die bewind van oudpres. Jacob Zuma oopgevlek het. Mashaba sê vir haar eerlikheid is sy deur die ANC verguis.