Dit is een ding om hoog op te gee oor mediavryheid en die media met die heuningkwas te smeer, maar iets anders om ’n burgerlike omgewing te skep waarin mediavryheid as ’n pilaar van ’n demokratiese bestel gedy.
Dit is ook loflik dat pres. Cyril Ramaphosa verlede week voor die Zondo-kommissie die Suid-Afrikaanse media se rol om staatskaping te onthul as patrioties en fenomenaal bestempel het en dit gister – op Internasionale Mediavryheidsdag – weer in sy weeklikse nuusbrief herhaal het.
Tog, laat dit reguit gesê word, die rol van die media om staatskorrupsie te onthul was geensins danksy die ANC nie, maar ondanks dié party.