Bevindings wat die openbare beskermer (OB) oor gebrekkige dienslewering in Findsbury, Randfontein, gemaak het, kan netsowel dien as gevallestudie vir alle ANC-beheerde owerhede.
Die inwoners het onder meer gekla oor ’n gebrek aan gesondheids- en skoolgeriewe, swak paaie, die agteruitgang van die omgewing en misdaad. Hulle val onder die mislukte ANC-beheerde Wes-Rand-distriksmunisipaliteit – wat op die skandlys is van 14 munisipaliteite wat gesamentlik R1 miljard in VBS Mutual Bank belê het.
Adv. Busisiwe Mkhwebane, OB, het ’n hele rits opdragte aan die distriksmunisipaliteit, die polisie en die Gautengse provinsiale regering uitgereik. Dit wissel van die heraktivering van ’n satellietpolisiekantoor en die instelling van ’n 24-uur-gemeenskapsgesondheidsentrum tot die lees en vervanging van watermeters.