Die eufemistiese verwysing na probleme as “uitdagings” is vandeesweek weer ruimskoots gebruik in Geoff Makhubo, burgemeester van Johannesburg, se stadsrede. Van die “uitdagings” waarmee die Goudstad gekonfronteer word, sluit in wanadministrasie en wanbestuur, gebrekkige watervoorsiening, onwettige afvalstorting en die oortreding van munisipale regulasies.
Dit is nie “uitdagings” wat verskriklik innoverende oplossings verg nie. Dis eintlik baie basiese probleme wat uit die weg geruim kan word met sterk leierskap, basiese dissipline en werketiek.
Verval in die stad, wat aanvanklik tot dele van die middestad beperk was, syfer stadig maar seker deur na gewone voorstede. Dit kan gesien word in rommel (heel dikwels bou-afval) wat deel van die landskap geword het, die verwaarlosing van openbare parke en stukkende straatligte.