Die wyse waarop fluitjieblasers teen korrupsie en ander wandade al jare lank versaak word, is ’n klad op die naam van die regering en private individue en groepe wat daaraan aandadig is. Dit bedreig die beloofde strewe na ’n Suid-Afrika wat nie langer deur endemiese korrupsie oor die afgrond gesleep word nie.
Jare lank al word politieke beloftes gemaak oor die behoorlike en doeltreffende beskerming van fluitjieblasers, maar daarvan kom bitter min – dikwels absoluut níks nie.
Dit word weer belig deur die geval van Athol Williams, wat nou landuit gevlug het uit vrees vir sy lewe. Dít nadat hy beweerde korrupte maatskappye en individue blootgelê en voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig het.