Die sowat 40% van die land se sitplekke op binnelandse vlugte wat opgeskort is weens Comair se probleme, is ’n ontydige terugslag vir die ekonomiese herstel wat nou broodnodig is.
Dit is te verwelkom dat die Burgerlugvaartowerheid (BLO) ingryp om passasiers se veiligheid voorop te stel. Indien ’n lugdiens – in dié geval Comair, wat British Airways op binnelandse roetes bedryf en kulula.com besit – se veiligheid nie op standaard is nie, moet opgetree word.
Heelwat vrae ontstaan by die publiek, wat al weer aan die kortste ent moet trek. Hoekom is toegelaat dat die situasie versleg tot by dié drastiese stap om Comair se vliegtuie op die grond te hou? Doen ’n lugvaartmaatskappy en die lugvaartowerhede nie meer gereelde voorkomende inspeksies nie?