Die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) durf nie ’n enkele fout maak in sy hantering van Mervyn Dirks, ANC-LP, se bewerings teen pres. Cyril Ramaphosa nie.
Terwyl dit heeltemal moontlik is dat daar ’n politieke agenda agter die bewerings skuil, is dit nie genoeg rede om, soos wat die ANC-swepery oënskynlik nou doen, die saak in die doofpot te probeer druk nie.
As Ramaphosa wel geweet het van staatsgeld wat gebruik word vir politieke veldtogte, moet hy verantwoording daaroor doen. En as daar niks steek in Dirks se aantygings nie, dan moet die land dit ook weet as ’n verkose verteenwoordiger van die regerende party ongegronde bewerings teen ’n dienende president maak.