Swak dienslewering en onbevoegdheid in die land lei daartoe dat baie méér betaal word vir die vervaardiging van produkte en die lewering van dienste as wat nodig is.
In huishoudings waar dit bekostig kan word, het mense hulself reeds verskans teen die staat se swak diens deur die verkryging van private dienste vir byvoorbeeld gesondheid, veiligheid en onderwys. Dit beteken mense betaal nie alleen belasting vir dienste wat hulle nie gebruik nie, maar dok nóg meer op vir toegang tot private verskaffers van daardie dienste.
In die landboubedryf lyk die insetkoste van boere heel anders as in lande met funksionerende regerings – en nou word daar nie eens na staatsubsidies verwys nie. Boere, wat ook belasting betaal vir dienste wat deur die regering gelewer moet word, moet bykomend begroot vir uitgawes om byvoorbeeld paaie in stand te hou ten einde produkte by die mark uit te kry. Dan is daar in baie gevalle bykomende uitgawes vir veiligheid, nie net op persoonlike front nie, maar selfs om oeste op landerye teen onwettige stropers te beskerm.