Die aanval deur Fikile Mbalula, die ANC se verkiesingshoof, op “die media, en veral die SAUK”, wat skuld moet dra vir sy party se verliese in die plaaslike verkiesings, is ’n onaangename herinnering aan hoekom Suid-Afrika onder die ANC so diep in die verknorsing beland het.
In die gesplete taal so kenmerkend van populistiese propaganda-profete het Mbalula op ’n mediakonferensie eers erken dat dit die ANC niks in die sak sal bring om ander partye vir sy swak vertoning in die verkiesings te blameer nie.
Direk daarna het hy verval in ’n klaaglied oor die media – en veral die SAUK, wat in ’n reeks insetsels oor swak munisipale dienslewering glo sou bydra tot kiesers se negatiewe houding jeens die ANC. Die waarheid is dat nie die SAUK nie, maar die ANC die blaam daarvoor moet dra.