Die pogings tot gerusstelling wat die hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) Maandag gegee het, moet nou opgevolg word met ’n duidelike uiteensetting van presies wat alles by die NVG skort en hoe dit reggestel gaan word.
Hierin mag die stem van die regering nie weer stil wees nie.
Adv. Shamila Batohi, NVG-hoof, was onder meer gefokus op skadebeheer in die nadraai van adv. Hermione Cronje, hoof van die ondersoekdirektoraat, se bedanking. Sy het die versekering gegee dat sy en Cronje nie haaks is nie en dat sy self nie beplan om te bedank nie. Terselfdertyd was haar konferensie nogmaals ’n bevestiging dat die NVG veels te min kapasiteit het.