Berigte dat pres. Cyril Ramaphosa se politieke binnekring by hom aandring om Gwede Mantashe weg te skuif van politieke beheer oor energiesake en enige toekomstige betrokkenheid by Eskom, bied ’n sprankie hoop op uiteindelike rasionaliteit in die land se hoogste raadsale.
Dit dui veral daarop dat die besef in die kring begin posvat het wat die werklike probleme betreffende Eskom is en wat dit kan oplos en wat nie. Ook dat Mantashe se verstokte idees en openlike ondermyning van Eskom se toegang tot alternatiewe energiebronne ’n erge struikelblok is.
In die einste binnekring was daar die afgelope vyf jaar erge frustrasie met hul president. Hulle moes magteloos toekyk hoe hy in kringe konsulteer oor kritieke besluite, net om uiteindelik geen besluit te neem nie. Of in sommige gevalle ’n swak besluit.