Daar is reeds in dié ruimte genoem dat suksesvolle strafregtelike vervolgings nou uit die werk van die Zondo-kommissie moet voortvloei. Wat steeds te min aandag kry, is hoeveel werk nog nodig is om die instellings van ons grondwetlike demokrasie te herbou.
Zondo beveel bepaald ook vervolgings aan, asook wetgewing om spesifiek amptenare wat hulle aan magsmisbruik skuldig maak met groot boetes en lang vonnisse te teiken. Dis te verwelkom.
Die misbruik van staatsmag is nie ’n spesifieke strafregtelike oortreding nie en dit is dus moeilik om vervolging in te stel alvorens ’n bestaande misdaad ingevolge die wetboek begaan is. Dis ’n skuiwergat wat deurlopend misbruik word.