Met die viering van Jeugdag vandag, 46 jaar ná 16 Junie 1976, kom ’n sterk tweevoudige betekenis aan dié dag na vore. Dié dag bly van historiese én hedendaagse belang.
Enersyds moet ’n mens terugstap op die voetspore wat gelei het tot die geboorte van die demokratiese Suid-Afrika op 27 April 1994, na 16 Junie 1976, bepaald een van die belangrikste dae in die geskiedenis van die moderne Suid-Afrika. Dit was ’n dag wat die gang van die Suid-Afrikaanse geskiedenis onomkeerbaar verander het.
Op dié dag het sowat 20 000 skoolkinders in die strate van Soweto teen die gebruik van Afrikaans as voertaal in swart skole betoog. Die tol was hoog, nie net wat die lewensverlies onder swart jeugdiges betref nie.