Niemand is seker verbaas oor die afgelope paar dae se verbete aanvalle op hoofregter Raymond Zondo nie.
Zondo, as voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, het in sy finale verslag verskeie aanbevelings gemaak oor spesifieke individue wat ondersoek moet word vir hul rol in die stelselmatige en doelbewuste uitkalwe van die staatskas.
Die eerste salvo’s is afgevuur deur oudpres. Jacob Zuma – die einste Zuma in wie se termyn die Zondo-kommissie aangestel is. Zuma het die naweek sy regspan gevra om Zondo by die Regterlike Dienskommissie (RDK) te verkla. Mzwanele Manyi, woordvoerder van Zuma se stigting, het op ’n mediakonferensie ingeklim onder Zondo en onder meer na hom verwys as iemand wat “onwaardig is om ’n regter genoem te word”.