Terwyl die geskorste openbare beskermer (OB) – veel eerder die “openbare beskadiger” – aanhou veg vir haar pos, word die aansien van die instelling wat sy veronderstel is om te dien, net meer skade berokken.
Adv. Busisiwe Mkhwebane (OB) het haar nou tot die Afrika-kommissie vir mense- en volkereg gewend in ’n poging om nie uit haar pos verwyder te word nie. Dis gewoon belaglik.
Volgens haar het Suid-Afrika haar regte geskend deur te probeer om haar uit haar pos te verwyder, asook art. 7(1) en 26 van die Afrika-handves, wat handel oor die reg van individue om hul saak te stel, en die plig van die staat om die onafhanklikheid van die howe te waarborg.