Naïwiteit is die kernbegrip wat opkom indien ’n mens die diplomatieke dans tussen Suid-Afrika en Rusland dophou.
Dit is wel nie die Russe wat naïef is nie. Sergei Lawrof, Russiese minister van buitelandse sake, se besoek aan Suid-Afrika vandeesweek is berekend. Sy land word tans toenemend geïsoleer weens die bloedige inval in Oekraïne. Daarom gryp die Russe enige geleentheid aan om in die diplomatieke kollig te bly, veral as dit ooglopend met ’n gulhartige ontvangs gepaardgaan.
Rusland bly midde alles ’n groot moondheid en is saam met Suid-Afrika ’n lid van die Brics-lande. Om gedeelde belange te bespreek, is nie veronderstel om ongewoon te wees nie. Boonop is daar vir die ANC die sentiment van Rusland – as deel van die destydse mislukte Sowjetunie – wat lede van die organisasie gehuisves, opgelei en onder meer van wapens voorsien het in hul bevrydingstryd.