In die apartheidsjare was dit een van die groot vraagstukke onder hervormingsgesinde Afrikaners: Moet ons van binne die NP veg vir ’n nuwe politieke bedeling of daarbuite?
Eens stoere Nasionaliste soos Wynand Malan, Denis Worrall en Ester Lategan het in die laat 80’s besluit die NP onder PW Botha is in ’n doodloopstraat en weggebreek. Ander, soos Leon Wessels, Roelf Meyer en Sam de Beer, het verkies om binne die laer te bly.
Malan en Worrall, wat aanvanklik as onafhanklikes hul eie potjie gekrap het, het later saam met Zach de Beer van die PFP die troika-leierskorps van die nuut gestigte Demokratiese Party gevorm. In die 1989-verkiesing het die DP druk op die NP gelaai deur sy steun van links weg te kalwe, terwyl die KP dit van regs gedoen het.