Nathi Mthethwa, minister van sport, en sy meelopers deel iets met diegene wat krieket en rugby se knielers as verraaiers verguis.
Nie een van dié twee kampe van uiterstes kan ’n gesonde pad vorentoe baan vir sport in Suid-Afrika nie. Dit is ook klaarblyklik buite hul bereik om ’n brug te bou tussen die knielers en die staners voordat rugby binnekort weer in Suid-Afrika hervat. Sonder ’n sinvolle oorbruggingsdaad kan groot skade aan die sport én nasiebou aangerig word.
Mthethwa het dit die afgelope week goedgedink om agt Suid-Afrikaanse rugbyspelers “rassiste” te noem nadat hulle gekies het om nie te kniel voor ’n Engelse Premierligawedstryd op Vrydag 14 Augustus tussen die Harlequins en Sale Sharks nie. Dat die agt T-hemde met die woorde “Rugby against racism” gedra het, het Mthethwa min geskeel. Want die keuse om die Black Lives Matterbeweging (BLM) nie met ’n knieval te steun nie, kon volgens die minister net een betekenis hê, naamlik dat jy ’n keiharde rassis is.