Die wreedaardige bendeverkragting van agt vroue in West Village, Krugersdorp, bring drie sake aan die bod.
Eerstens is daar die skrikbewind van zama-zamas in myngemeenskappe, soos ook die Vrystaatse Goudvelde. Tweedens, die polisie se onvermoë om dié onwettige mynery uitgeroei te kry; maar skielik skrik Bheki Cele, minister van polisie, wakker. En derdens, die pandemie van geweldsmisdaad teen vroue waaraan Suid-Afrika onmiskenbaar ly.
Die West Village-gebeure stem tot nog wanhoop oor geweldsmisdaad. Wat die vroue moes deurmaak, is ondenkbaar. Agt vroue het 32 klagte – een van hulle 20 – van verkragting ingedien.