My oupagrootjie-hulle se generasie het op die rooi stoep voor hul huis gekuier. Dit was in die tyd wat mense nie skaam of bang was om aan ’n openbare lewe deel te neem nie. As jy op die stoep gestaan het, kon jy die omliggende huise en strate en ’n deel van die stad se panorama sien. Voetgangers het gestop om te groet en daar was altyd ’n gesprek wat tussen die stoep en bedrywighede in die woonbuurt plaasgevind het.
My ouma-hulle het in 1976 van die stoep na die TV-kamer beweeg. Daar het hulle met opslaantafeltjies aandete in die lig van die TV geëet. Dit is natuurlik in die tyd wat almal eerder rugby en reekse van die SAUK bespreek het, en nie noodwendig dit wat in die politiek aan die gang was nie.
Ek het in 1985 by my ouma-hulle en my ouers in die TV-kamer aangesluit. Dit is ook hier waar ons met familie en vriende gekuier het en waar ek as kind geluister het na die volwassenes wat politiek met toenemende kommer bespreek het.