Met die verkiesing van Cyril Ramaphosa as president van Suid-Afrika het ons hemelhoë verwagtinge gehad. Oornag sou probleme soos staatskaping, lae ekonomiese groei en die fiskale afgrond opgelos word of verdwyn.
Ons het nie met die greep van die staatskapers en hul terugvegpoging rekening gehou nie. Ramaphosa is met die kleinste denkbare meerderheid tot ANC-president verkies terwyl die party tegelyk diep verdeel is oor ekonomiese en politieke vraagstukke.
Gevolglik kan Ramaphosa Suid-Afrika se uitdagings met net een hand aanpak. Hy het sy “ander hand” voltyds nodig om interne ANC-konflik en -struweling te bestuur en sy posisie in die party te beskerm. Die resultaat is ’n baie stadiger nasionale regrukpoging as wat by die aanvang van sy regering verwag is.