In die afgelope vier jaar is ek bloots gery deur siekte-omstandighede. Aanvanklik deur hartprobleme waarvoor ek ná donker op ’n Vrydagaand twee stents in ’n hartslagaar moes kry. Vervolgens ’n onontdekte abses diep in my moederwêreld wat my dubbeld geknak het van pyn. Toe verstop ’n slagaar in my bobeen, wat gelei het tot ’n swart voet en ’n omleiding. En toe, tot my skok, sak my nierfunksie na 22%.
Gode zijn dank is die mediese wêreld bykans tot enigiets in staat, en kort-kort is die swart engel met die raspervlerke verjaag. Só is daar vir my geleende tyd gegee. Deur alles heen het ek die helende krag ontdek van die nederige ysblokkie.
In antieke tye het Egiptenare en Mesopotamiërs ys in hul water en wyn gegooi vir afkoeling. Die Chinese het al 1 000 jaar v.C. blokke ys uit bevrore strome gekap en daarmee voedsel bewaar. In 1853 patenteer Alexander Twining die eerste kommersiële verkoelingstelsel wat ys kan produseer. Teen die 1860’s het die beskikbaarheid van ys ’n omwenteling in Amerika gebring rakende die berging van vleis en bederfbare produkte.