Sowat vier jaar gelede kry ek ’n versoek van ’n vrou by name Lenie Nell van Uitenhage (Kariega). Sy nooi my vir tee en koek by Grassroof, ’n kunstige restaurant knap buitekant die Baai.
Afgespreek. Datum en tyd in my dagboek aangeteken. ’n Dag voor die tyd stuur sy ’n boodskap om my te herinner. En daar kom ek ’n bejammerenswaardige glips oor. Ek vergeet totaal en al van ons afspraak. Eers toe sy my uit Grassroof bel, tref dit my soos ’n knuppel teen die voorkop. Ek is nie ’n loskopmens nie, en so iets het my nog nooit oorgekom nie.
Maar Lenie is vergewensgesind en ’n paar dae later realiseer ons teedrinkery. Sy vertel sy en haar man is reisgeeste, en kort tevore was hulle op ’n luukse boottoer, ek dink op die Wolgarivier, in Rusland. Sy het my en die gryse se toer op die kanale van Engeland gevolg, en dit word ’n oggend van gedeelde herinneringe.