Sy voel soos ’n plant wat elke dag al hoe dieper en dieper moet delf in die grond op soek na water, na geluk. Is dit sodat ons later die storms en droogte sal kan weerstaan? vra Erla-Mari Diedericks.
Ek moet altyd gelukkig voel. Ek jaag dit na elke oomblik van die dag, elke sekonde van die oomblik. Gelukkig is dit meeste van die tyd binne my bereik om twee redes: Klein dingetjies maak my bly en dan is daar my 20 mg van gewaarborgde welbehae wat sorg dat my brein nie bobbejane agter die bult gaan haal wat my plesier gaan bederf nie.
Het ander mense hierdie konstante behoefte daaraan om gelukkig te voel? Ek weet nie. Al wat ek weet, is dat geluk ’n warm, ligte gevoel in my borskas is, oop ruimtes in my kop en ’n onwillekeurige glimlag wat die kommer uit my pers soos ’n sug.