Op die ou einde gaan dit alles oor perspektief, dink ek verlede week toe die krag aan die einde van ’n fase 4-beurtkragskof nie weer wil aangaan nie. Hier in Johannesburg is die kragnetwerk se infrastruktuur so wankelrig, Eskom nies net liggies, dan is ons hele buurt nagdonker met verkoue.
Nie net dit nie. Iemand stuur verlede week aan my ’n foto van twee swaar gewapende ouens met koeëlvaste baadjies, heel paraat voor ’n baksteengebou. ’n Mens sou kon dink dis Suid-Afrikaanse huursoldate voor die Tsjernobil-kernkragstasie in Oekraïne. Maar nee, dis lede van ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy wat ’n kragboks aan die Oos-Rand bewaak teen diewe wat meen beurtkrag is die perfekte tydgleuf vir ’n koperstropie.
Op Facebook lees ek van iemand wat 60 uur lank sonder krag was. Dit gee perspektief en bevestig dat jy altyd beter voel as jy weet jy is nie alleen nie.