Een van die beste boeke is André P. Brink se Houd-den-bek, wat afspeel teen die agtergrond van die 1825-slawe-opstand in die Koue Bokkeveld. Hoewel fiksie, speel dit lewensgetrou af midde-in die opstand wat werklik gebeur het.
Die boek se hoofstukke is vertellings deur 30 verskillende karakters en só beleef ’n mens hoe elkeen presies dieselfde gebeure heeltemal verskillend ervaar en verstaan. En mekaar se motiewe heeltemal verkeerd, of ten minste anders, vertolk.
Die ANC se aankondiging op sy onlangse nasionale konferensie dat een van sy prioriteite is om mense te laat verstaan die lewe was nie beter onder apartheid nie, laat ’n mens aan dié boek terugdink. Veral ook die debat wat toe ontketen is oor of dit beter onder apartheid was of nie. Die stemme wat so heeltemal verby mekaar praat. Soos een van die karakters in Houd-den-bek, Ma-Roos, dit stel: “So praat ons, so praat ons, ’n ry stemme in ’n ketting, almal saam en almal apart, almal anders en almal dieselfde, en die skakel mag lieg, maar die ketting is waar. En die naam van die ketting is Hou-den-Bek.”