Twee ANC-streekkonferensies in die sakkie – Mpumalanga en die Oos-Kaap – sewe om te gaan. Só lyk die telbord vir pres. Cyril Ramaphosa in sy opmars om in Desember weer die ANC-presidentskap te verower.
Hoewel sy faksie met redelike meerderhede wen, maak hulle nie heeltemal skoonskip nie en dit bly ’n morsige stryd. Die faksie vir radikale ekonomiese transformasie (RET) het nie die handdoek ingegooi nie en duidelik kennis gegee dat hy voluit (vuil en skelm soos altyd) gaan veg tot op Desember se konferensievloer.
Die CR22-veldtog se taktiek is om nuwe sentrale reëls oor die behoorlike oudit van takke se ledetalle en getal afgevaardigdes tot op die letter af te dwing. Senior nasionale leiers word ook op die streekkonferensies ontplooi om te sorg dit gebeur. Die ou Jacob Zuma-taktiek om konferensies te laai met kitstakke bestaande uit spooklede of takke wat nie die voorgeskrewe reëls volg nie, word só gefnuik. Dit is waaroor die groot wanordelike getwis dan ook op die Oos-Kaapse vloer gegaan het. Wie mag registreer en wie nie. Vanjaar was daar darem nie ’n massastoelgeveg nie, maar dit was steeds by tye ontwrigtend. Met Ace Magashule soort van uit die pad, gaan dit wel (effe) makliker.