Dit was nie onverwags dat koningin Elizabeth II se dood weer die alomteenwoordige verdelingslyne oor omtrent alles sou beklemtoon nie.
Anthony Albanese, Australiese premier, se links van die sentrum Arbeidersparty streef ’n republiek na, met ander woorde, die verwydering van die Britse monarg as Australië se staatshoof. Tog is dit hy wat kop en skouers uitgestyg het in sy reaksie op haar dood. En tot ’n mate iets herstel het van ’n belangrik onderliggende waarde wat die afgelope dekade of wat toenemend by die agterdeur uitgegooi is: Dekorum, of anders gestel, betaamlikheid.
Aangesien ons oor ’n Britse monarg praat, kan ons netsowel die treffende Engelse beskrywing aanhaal: “Decorum: behaviour in keeping with good taste and propriety.”