Kom ons begin by enige moontlike goeie of hoopgewende nuus uit die langverwagte kabinetskommeling.
Die oordra van sommige ministers se funksies na die nuwe minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, kan ’n ligpunt wees. Veral die “versnelling van die koop van nuwegenerasie-energie” volgens pres. Cyril Ramaphosa. Iets wat die president al telkemale die afgelope twee jaar aangekondig het. Waarvoor André de Ruyter herhaaldelik gevra het, maar wat geïgnoreer is.
Pleks daarvan om die oorsaak van die blokkering, Gwede Mantashe, eenvoudig weg te laat uit die kabinet, word hy behou. Maar van sy funksies uit energie word na die ten duurste nuutgeskepte elektrisiteitsportefeulje oorgedra. Gaan die vreemde ompadstrategie wat Ramaphosa op ’n bisarre manier in sy eie kabinet inbou, werk?