Is Amerika maar net met ’n opportunistiese spel besig om ons as skynbare bondgenoot van Rusland onder druk te plaas?
Of is daar wel in Desember wapens op die Russiese houerskip Lady R in Simonstad gelaai? En indien wel, was dit amptelike verkope van Suid-Afrika of smokkelhandel deur staatskapers of wie ook al?
Vreemdste van alles is dat pres. Cyril Ramaphosa ’n kommissie onder ’n afgetrede regter nodig het om te bepaal wat in Desember op die Lady R gelaai is. En hoe hy en sy regering die bestaan van sodanige ondersoek skynbaar wou toesmeer. Vandaar hul woede-uitbarsting teenoor Reuben Brigety, Amerika se Demokratiese ambassadeur in Suid-Afrika. Omdat hy dit durf waag om met die hele sak patats vorendag te kom.