Soms het mense ’n uiters aangename droom. Hulle skrik dan wakker en probeer weer insluimer met die hoop dat die droom voortgaan, maar helaas.
Dit is wat opposisiekiesers landwyd die afgelope twee weke beleef het met die koalisieprobleme in die Johannesburg-metro. Hulle het etlike maande gehoop koalisies, gevorm deur opposisiepartye, kan ontwikkel tot ’n werklike alternatief om die ANC in 2024 by die nasionale stembus te troef.
Johannesburg s’n was wel ’n brose minderheidskoalisie. En 0,2%-partytjies met een, twee of drie verteenwoordigers se integriteit is soveel werd soos die laaste vergadering of volgende aanbod – bo of onder die tafel. Al is daar skriftelike koalisieooreenkomste.