Nou ja, my ou maat, ek hoop jou tuinman is al terug van Bosbokrand of Zimpapwe, dat jou kindertjies deur die genade van Levoetjie plek in ’n skool gekry het, dat die bouers wat jou nuwe huis half gelos het al opgedaag het, dat die paddas al uit jou groen swembad is, dat jou Kersboom en Kersvaderpak al gebêre is en dat jou liewe skoonma terug is en nie besluit het om tot die Paasnaweek te bly nie.
Intussen het ons nou die stadium bereik waar Eksdom en ou Maantassie ons het net waar hulle ons wou gehad het: dankbaar vir elke krummel of straaltjie lig wat na ons kant toe kom.
Soos Dik Daan sê, laat ons kragpenarie hom nou dink aan hul ou plaastelefoon daar in Mook se wêreld: “Die tannie by die sentrale gooi vier langes, dan twee kortes en dan weer vier langes en nou raak ons al diep dankbaar as ons soos Pavlov se gidshond net twee uur in die duisternis hoef te sit. Dankie, my baas, vir klein genadetjies!